HOOFSTUK SES

GEVOLGTREKKINGS, IMPLIKASIES EN AANBEVELINGS

6.1 INLEIDING

Aangesien daar tans nog nie sekerheid bestaan oor die presiese gene wat TS veroorsaak nie, en die farmakologiese ingryping slegs die simptome verminder, sal die verskillende komponente van die ekosisteem (naamlik die gesin en ander klein groepe, die skool en die samelewing) toenemend met die uitdaging gekonfronteer word om die TS-lyer behulpsaam te wees ten einde hom in staat te stel om 'n realistiese selfkonsep te vorm en sy potensiaal optimaal te aktualiseer. Ten einde hierdie taak te fasiliteer word 'n ingeligte ekosisteem vereis, wat kennis dra van resultate wat navorsing opgelewer het.

6.2 GEVOLGTREKKINGS

6.2.1 DIE GLOBALE BEELD

Indien die berekende resultate globaal beskou word, kan die volgende algemene gevolgtrekkings gemaak word:

i) Die adolessent wat aan TS ly, vertoon 'n laer nie-akademiese selfkonsep as die adolessent wat nie aan TS ly nie.

ii) Die adolessent wat aan TS ly, vertoon 'n laer akademiese selfkonsep as die adolessent wat nie aan TS ly nie.

iii) Die adolessent wat aan TS ly, vertoon 'n laer globale selfkonsep as die adolessent wat nie aan TS ly nie.

iv) Die adolessente seun wat aan TS ly vertoon eweneens 'n laer nie-akademiese selfkonsep, akademiese selfkonsep en globale selfkonsep as die adolessente seun wat nie aan TS ly nie.

v) Geen beduidende verskille wat betref die nie-akademiese selfkonsep, akademiese selfkonsep en globale selfkonsep, is tussen ouer en jonger adolessente wat aan TS ly gevind nie.

vi) Geen beduidende verskille wat betref die nie-akademiese selfkonsep, akademiese selfkonsep en globale selfkonsep, is tussen adolessente wat aanvaar dat hulle aan TS ly en dié wat nie aanvaar dat hulle aan TS ly nie, gevind nie.

6.2.2 DIE GEDIFFERENSIEERDE BEELD

Indien die berekende resultate gedifferensieerd beskou word, kan die gevolgtrekkings as volg verfyn word:

i) Wat die nie-akademiese selfkonsep betref, blyk dit dat die adolessente TS-lyer in vergelyking met die adolessent wat nie aan TS ly nie, die volgende vertoon:

* 'n laer fisieke selfkonsep

* 'n laer persoonlike selfkonsep

* 'n laer gesinselfkonsep

* 'n laer sosiale selfkonsep

* geen verskille wat die volgende betref nie:

** waarde self

** selfkritiek.

ii) Wat die akademiese selfkonsep betref, blyk dit dat die adolessente TS-lyer in vergelyking met die adolessent wat nie aan TS ly nie, die volgende vertoon:

* 'n negatiewer houding teenoor die skool

* 'n laer evaluering van sy eie skoolwerk

* 'n negatiewer persepsie van sy eie akademiese vermoëns.

iii) Wat die nie-akademiese selfkonsep betref, blyk dit dat die adolessente seun wat aan TS ly in vergelyking met die adolessente seun wat nie aan TS ly nie, die volgende vertoon:

* 'n laer fisieke selfkonsep

* 'n laer persoonlike selfkonsep

* 'n laer gesinselfkonsep

* 'n laer sosiale selfkonsep

* 'n laer waarde self

* geen verskil ten opsigte van selfkritiek nie.

iv) Wat die akademiese selfkonsep betref, blyk dit dat die adolessente seun wat aan TS ly in vergelyking met die adolessente seun wat nie aan TS ly nie, die volgende vertoon:

* 'n negatiewer houding teenoor die skool

* 'n laer evaluering van sy eie skoolwerk

* geen verskil ten opsigte van persepsies van eie akademiese vermoëns nie.

6.3 DIE OPVOEDKUNDIGE IMPLIKASIES VOORTSPRUITEND UIT DIE

NAVORSING

Uit die aangeduide gevolgtrekkings blyk dit duidelik dat die adolessente TS-lyer se geneigdheid tot 'n lae selfkonsep wye implikasies vir die TS-lyer self, asook die hele ekosisteem van die TS-lyer, dit wil sê sy gesin, die skool en die samelewing, inhou.

Bogenoemde kan toegeskryf word daaraan dat die TS-lyer as 'n subsisteem in die konteks van 'n groter sisteem funksioneer. Alhoewel optimale funksionering impliseer dat beide die TS-lyer en die sisteem se funksionering geoptimaliseer moet word, vind die een nie ten koste van die ander een plaas nie. Die ander sisteme, soos die gesin en die skool, asook die sosiale omgewing, dra medeverantwoordelikheid daarvoor om die konteks, dit wil sê die geskikste lewensruimte, en die middele daar te stel vir die optimalisering van die TS-lyer se potensiaal (Moore, 1997:568). Enkele implikasies wat vir die TS-lyer en sy totale sisteem van belang blyk te wees, sal vervolgens bespreek word.

6.3.1 IMPLIKASIES VIR DIE ADOLESSENTE TS-LYER SELF

Die bevindinge van die ondersoek ten opsigte van die lae nie-akademiese selfkonsep, hou die volgende implikasies vir die TS-lyer in:

* Die adolessente TS-lyer se geneigdheid tot 'n lae fisieke selfkonsep impliseer moontlik dat TS dit vir hom moeilik maak om sy liggaamlikheid positief te beleef. Dit kan ook beteken dat hy homself nie as blakend gesond en aantreklik beskou nie. Per implikasie beleef hy waarskynlik nie 'n tevredenheid met sy liggaam, wat onwillekeurige trekkings en geluide voortbring, nie. TS het ook moontlik tot gevolg dat sy optrede deur angstigheid, senuagtigheid en lompheid gekenmerk word, wat beteken dat hy nie selfversekerd is nie ten opsigte van sy liggaamlikheid. Dit kan moontlik impliseer dat die TS-lyer homself as liggaamlik onbekwaam of oneffektief beleef.

* Die adolessente TS-lyer se geneigdheid tot 'n lae persoonlike selfkonsep impliseer moontlik dat TS daartoe kan bydra dat hy homself nie in beheer van homself beskou nie en nie ander se gelyke voel nie, maar wel gevoelens van minderwaardigheid koester. Dit beteken ook dat hy moontlik 'n negatiwiteit en ontevredenheid met homself as persoon beleef, ook met sy vermoë om sy probleme op te los en ook wat betref sy verhoudinge teenoor ander. Die lae persoonlike selfkonsep kan impliseer dat hy deurentyd sy ego moet beskerm, wat sodoende sy optrede as volg kan beïnvloed: gevolge van dade word nie vooraf deurdink nie; hy ploeter besluiteloos voort; hy kan nie konstant by sy oortuiginge bly nie en aanmanings het 'n uitbarsting tot gevolg. Emosionele aanpassing by sy TS-situasie vind nie altyd na wense plaas nie. Die lae persoonlike selfkonsep kan moontlik verder beteken dat die TS-lyer oorbeskerm of verwaarloos, of selfs uitgesluit en verwerp kan voel.

* Die adolessente TS-lyer se geneigdheid tot 'n lae selfkonsep met betrekking tot die gesin impliseer moontlik dat hy voel dat hy nie onvoorwaardelik deur sy gesin aanvaar word vir wie hy is nie en 'n onsekerheid ten opsigte van sy gesin se liefde vir hom kan beleef. Hy voel moontlik dat hulle nie voldoende hulp aan hom verleen nie, hom nie ondersteun en vertrou nie, maar voortdurend kritiseer. Kritiek word vermoedelik moeilik aanvaar en verwerk. Dit alles kan emosionele spanning in die gesin tot gevolg hê en ook bydra tot die emosionele ontwrigting van die TS-lyer.

Omdat sy gedrag meestal voortdurende dissiplinering verg, versteur dit moontlik verder die kommunikasie en verhoudinge, veral tussen homself en die ouer, maar ook met die res van die lede van sy gesin.

* Die adolessente TS-lyer se geneigdheid tot 'n lae sosiale selfkonsep impliseer moontlik dat hy dit moeilik vind om verhoudinge met ander te stig en om gemaklik met hulle oor die weg te kom. Hy kan selfbewus voel oor sy TS en dus inkeer tot homself, wat dit vir ander moeilik maak om toenadering te soek, vriende te maak en verhoudinge aan te knoop. Dit kan beteken dat hy te kort skiet wat sosiale vaardighede betref, met die moontlike gevolg dat sy interpersoonlike verhoudinge versteur word en hy sonder vriende verkeer.

Die adolessent se geneigdheid tot 'n lae nie-akademiese selfkonsep impliseer moontlik dat die TS-lyer se TS-simptome en sekondêre probleme dit vir hom moeilik maak om positief oor homself te voel op die fisieke terrein, in sy persoonlike self, in sy gesin en ook wat betref sy sosiale interaksie. Dit kan beteken dat die TS-lyer nie die geskikste konteks en middele deur die ekosisteem gebied word om sy optimale funksionering te verseker nie en dat hy dit gevolglik moeilik vind om sy potensiaal, binne die totale ekosisteem, optimaal te realiseer.

Die bevindinge van die ondersoek ten opsigte van die lae akademiese selfkonsep hou die volgende implikasies vir die TS-lyer in:

* Die adolessente TS-lyer se geneigdheid tot 'n negatiewe houding teenoor die skool impliseer waarskynlik dat hy sy skoolervaring as onaangenaam beleef. Hy behaal moontlik nie voldoende sukses in skooltake nie en word dalk nie deur die onderwyser aanvaar nie. Voorts kan die TS-lyer probleme ervaar om, met sy TS-simptome en sekondêre probleme, in die rigiede klaskamersituasie in te skakel. Sy gedragsprobleme kan verder tot gevolg hê dat hy voortdurend negatiewe terugvoering van die onderwysers en ander leerlinge ontvang. Hy beleef moontlik verleentheid en voel "anders", is waarskynlik nie volledig deel van die klas nie en identifiseer nie positief met die skool nie.

* Die adolessente TS-lyer se geneigdheid tot 'n lae evaluering van sy eie skoolwerk impliseer moontlik dat hy soveel aandag en energie aan sy TS-simptome en die hantering daarvan moet gee, dat hy weinig tyd en energie het om aan sy werk te bestee. Die konsentrasie- en skolastiese probleme, asook die obsessies en kompulsies, kan sy vordering rem en hom gevolglik aan die standaard van sy skoolwerk laat twyfel. Hy besef moontlik dat hy met sy skoolwerk sukkel en dat die onderwysers nie van mening is dat hy slim is nie en dit kan daartoe aanleiding gee dat hy aan sy eie prestasies kan twyfel.

* Die adolessente TS-lyer se geneigdheid tot 'n negatiewe persepsie van sy eie akademiese vermoëns impliseer moontlik dat TS wel die standaard van sy skoolwerk nadelig beïnvloed en kan veroorsaak dat hy sy skoolprestasie as swakker as dié van sy klasmaats beskou. Hy skat waarskynlik ook sy potensiële prestasievermoë gering, tans in die klas en ook in die toekoms op tersiêre vlak. Hy is waarskynlik nie bewus van sy werklike vermoëns nie en gee moontlik moed op voordat hy nog probeer het. Die negatiewe persepsie van sy eie akademiese vermoëns kan gevolglik by hom die gevoel wek dat hy ver te kort skiet en nie effektief in die skool en samelewing sal kan funksioneer nie.

Die adolessente TS-lyer se geneigdheid tot 'n lae totale akademiese selfkonsep impliseer dat die TS-simptome en sekondêre probleme moontlik die TS-lyer se funksionering in die skool nadelig beïnvloed, veral wat betref sy houding teenoor die skool, sy eie evaluering van sy skoolwerk en dan ook sy persepsie van sy akademiese vermoëns. Dit kan ook moontlik beteken dat daar nie aan die TS-lyer se spesifieke behoeftes ten opsigte van 'n geskikte konteks en die nodige middele vir die daarstelling van 'n positiewe akademiese selfkonsep in die skool voldoen word nie.

Die adolessente TS-lyer se geneigdheid tot 'n lae globale selfkonsep impliseer moontlik dat hy vanweë die effek wat TS op homself en sy interaksie met ander het, dit moeilik vind om positiewe oortuiginge en gesindhede oor homself te huldig wat betref beide die nie-akademiese en akademiese dimensies van sy selfkonsep. Bykomend kan dit moontlik beteken dat daar nie 'n geskikte konteks geskep is en die nodige middele nie voorsien is vir die TS-lyer om in die totale ekosisteem optimaal te funksioneer en 'n positiewe globale selfkonsep te vorm nie.

Die resultate van die ondersoek impliseer dus dat nie alle TS-lyers verwerk het dat hulle aan TS ly nie en nie glo dat hulle ten spyte van die TS, tog 'n realisties positiewe selfkonsep kan vorm en hulle potensiaal optimaal kan verwesenlik nie.

6.3.2 IMPLIKASIES VIR DIE OPVOEDING IN DIE GESIN

Uit bogenoemde implikasies wat die navorsingsresultate vir die adolessente TS-lyer self inhou, spreek dit duidelik dat die adolessent met TS 'n ernstige appèl om steungewing en affektiewe begeleiding tot die ouers rig. Die TS-lyer het outentieke opvoedingsbemoeienis dringend nodig, dit wil sê 'n geskikte konteks en middele in die gesin, anders kan TS 'n hindernis word, wat positiewe selfkonsepvorming belemmer.

Die navorsingsresultate wat aandui dat die TS-lyer 'n geneigdheid tot 'n lae selfkonsep toon, kan moontlik 'n problematiese opvoedingsituasie (Pretorius, 1976:15) in die hand werk, wat moontlik die volgende implikasies vir die ouers kan inhou:

* Die ouers spreek moontlik nie die TS-lyer se opvoedingsnood aan nie. Die ouers beskou dikwels die TS-simptome van hulle kind as iets wat skade aan hulle eie selfkonsep berokken, verwerk die diagnose moeilik en vind dit problematies om die TS-lyer te hanteer en sy psigiese behoeftes voldoende te bevredig.

Hierdie behoeftes sluit die volgende in (Pretorius, 1976:15):

** fisieke behoeftes

** veiligheid en geborgenheid

** liefde en aanvaarding

** agting vir sy menswaardigheid

** kennis en begrip

** selfverwesenliking.

* Wanneer die opvoedingsbemoeienis onvoldoende, die verhou- dinge ontoereikend en die opvoeding nie behoorlik verloop nie, kan dit beteken dat daar ook sprake van opvoedingsverwaarlosing (Pretorius, 1976:18) deur die ouers is. Die gesin doen moontlik nie genoeg om die TS-lyer se selfkonsep te bevorder en sy inskakeling by die sosiale omgewing te vergemaklik nie. Die ouers gee moontlik ook nie genoegsame aandag aan die verwerwing van lewensvaardighede nie.

* Indien die omstandighede in die gesin van so 'n aard is dat die ouers nie met die TS-lyer bereik wat hulle behoort te bereik ten opsigte van selfkonsepvorming nie, kan dit beteken dat opvoedingsbelemmerende faktore 'n oorheersende rol in die opvoeding van die TS-lyer speel. Dit kan impliseer dat daar:

* nie 'n lewensruimte in die gesin verskaf word waar hy veilig kan voel nie,

* nie voldoende begeleiding en antwoorde op sy vrae verskaf word nie,

* nie liefdevolle versorging plaasvind nie,

* nie sosiale deugde, soos gesinsamehorigheid, voorgehou word nie (Pretorius, 1988:49-51).

* Daar is moontlik sprake van versteurde kommunikasie, wat beteken dat die interaksie tussen veral die TS-lyer en sy ouers, maar ook met die ander lede van die gesin nie altyd na wense verloop nie en dat konflik geïnternaliseer word. Die ouers vind dit moontlik moeilik om TS en aanverwante probleme met die TS-lyer te bespreek en vir die TS-lyer die geleentheid te bied om sy gevoelens teenoor hulle uit te spreek.

* TS versteur uiteraard die psigiese lewe van die TS-lyer, wat moontlik beteken dat die gesin die TS-lyer nie voldoende ondersteun om positiewe betekenis aan homself en sy TS, maar ook aan sy totale ekosisteem, te gee nie.

* TS het 'n neuropsigologiese grondslag, maar manifesteer ook op die fisieke vlak, met trekkings en gepaardgaande sekondêre probleme, soos gedragsprobleme. Daar kan dus sprake van 'n versteurde uitingslewe wees, wat kan beteken dat die gesin nie die nodige veiligheid en aanvaarding bied waarin die TS-lyer sy psigiese konflik kan verwerk en moontlik ook nie altyd sy onaanvaarbare optrede na wense kan hanteer nie.

* Die TS-lyer se lae selfkonsep is 'n aanduiding van sy "anderssyn-as-mindersyn" (Pretorius, 1976:33), of minderwaardigheid. Dit impliseer moontlik dat die gesin nie voldoende geleenthede vir die TS-lyer skep om homself te aanvaar, 'n eie identiteit te verwerf en 'n positiewe selfkonsep te vorm nie. Voorts kan die ouers se onrealistiese verwagtinge ten opsigte van die TS-lyer verder die gevoel van mindersyn in die hand werk en die vorming van 'n negatiewe selfkonsep bevorder. Vanweë die problematiese opvoedingsituasie waarin die gesin vasgevang is, bevorder die optrede van die ouers moontlik nie altyd 'n positiewe belewing van die self nie.

* Indien die gesinsituasie vanweë die probleem met die TS ontaard in 'n krisissituasie, kan dit perspektiefloosheid in die hand werk. Dit kan behels dat die ouers dikwels ook moedeloos voel wanneer hulle opvoedingspogings nie suksesvol is nie. Die gesin voel gevolglik vasgevang in die situasie en is onseker oor wat die toekoms vir hulle inhou. Dit kan ook dikwels gebeur dat die ouer nie weet hoe om 'n toekoms vir die TS-lyer te help skep nie.

* Die gesin met die TS-probleem ervaar dikwels dat hulle situasie in 'n bose kringloop ontaard het. Wanneer, volgens Pretorius (1976:35), die faktore binne die situasie mekaar "telkens en wedersyds negatief, versteurend en belemmerend" beïnvloed, is daar sprake van 'n sirkulêre dinamiek in die gesin. Indien die negatiewe belewinge van die ouer tot die TS-lyer deurskemer, kan dit ook by hom onsekerheid veroorsaak.

* Die gesin van die TS-lyer gaan gewoonlik gebuk onder probleme met die TS-lyer. Hulle vind dit dikwels moeilik om hom te dissiplineer, wat heenwys na 'n gebrek aan simpatieke gesagsleiding. Ferme beheer deur die ouer, tesame met onvoorwaardelike aanvaarding, wat sodoende 'n positiewe selfkonsep in die hand werk, ontbreek in baie gevalle.

6.3.3 IMPLIKASIES VIR DIE OPVOEDING DEUR DIE SKOOL

Dit spreek duidelik dat die navorsingsbevindinge veral ten opsigte van 'n lae akademiese selfkonsep, ook vir die opvoeding deur die skool verreikende implikasies inhou.

Dat die TS-lyer se houding teenoor die skool negatief is, kan die volgende impliseer:

* Die personeel is moontlik oningelig ten opsigte van TS en verleen nie die nodige steun en begeleiding aan die TS-lyer nie.

* Die personeel en leerlinge is moontlik ongemaklik in die aangesig van die trekkings en gedragsprobleme, wat daartoe kan lei dat die terugvoering van die onderwysers en die leerlinge, beide verbaal en deur middel van lyftaal, 'n negatiewe boodskap aan die TS-lyer stuur, wat hom homself as "anders" en "minder" laat ervaar.

* Die skoolpraktyk dra moontlik by tot die ontwikkeling van 'n negatiewe houding teenoor die skool, deurdat te min geleentheid vir die TS-lyer geskep word om sukses te behaal, en dat daar meer op sy swak punte (sy trekkings en gedragsprobleme) as op sy potensiaal gefokus word. Aangesien hy nie altyd volledig by die klasgebeure betrek word nie, voel hy dikwels uitgesluit en is daar weinig geleentheid vir die aktualisering van sy potensiaal, wat vir hom 'n positiewe ervaring sou kon wees.

* Die sosiaal-affektiewe behoeftes van die TS-lyer word moontlik verwaarloos terwyl die intellektuele ontwikkeling oorbeklemtoon word. Op hierdie wyse word die TS-lyer nie in totaliteit opgevoed nie en beleef hy moontlik dat hy ook hier te kort skiet.

* Die skool bevorder moontlik nie toereikende sosialisering nie. Die TS-lyer leer nie om weerbaar te wees, te kommunikeer, saam te lewe, om om te gaan met die teenoorgestelde geslag, druk te verwerk en gelukkig en sinvol te lewe nie.

* Die kommunikasie en skakeling tussen die skool en die ouers is moontlik nie toereikend nie, wat tot misverstande kan lei en die TS-lyer se gesindheid teenoor die skool nadelig kan beïnvloed.

Dat die TS-lyer sy eie skoolwerk laag evalueer, kan die volgende impliseer:

* Die onderwyser stel moontlik onrealistiese eise ten opsigte van die TS-lyer se skoolwerk en bied moontlik nie voldoende hulpverlening ten opsigte van sy skolastiese probleme nie.

* Daar word moontlik nie rekening gehou met die feit dat die TS-lyer baie energie gebruik om sy trekkings te onderdruk nie. Dit kan daartoe lei dat hy nie opdragte kan voltooi nie en dikwels agter raak met sy werk.

* Die onderrigmetodes en klasbestuur laat moontlik nie genoeg ruimte vir die TS-lyer se spesifieke behoeftes nie en moontlik is daar onkunde ten opsigte van die hantering van die gedragsprobleme, asook die obessessiewe en kompulsiewe gedrag.

* 'n Rigiede onderwysergesentreerde benadering in sommige skole belemmer moontlik die optimale akademiese funksionering van die TS-lyer, aangesien die TS-lyer nie in sy uniekheid raakgesien word en daar nie vir hom die nodige ruimte geskep en aanpassings gemaak word nie.

Dat die TS-lyer 'n negatiewe persepsie van sy eie vermoëns het, kan die volgende impliseer:

* Daar is moontlik te veel prestasiedruk, asook kompetisie tussen leerlinge in die skool.

* Daar word moontlik nagelaat om foute en mislukkings as leersituasies te beskou, met die gevolg dat mislukking veroorsaak dat die TS-lyer sy eie vermoëns geringskat.

* Daar is moontlik nie voldoende begrip vir die TS-lyer se probleme nie en daar word ook nie aan sy behoeftes ten opsigte van voorligting oor vakkeuses en loopbaan-beplanning voldoen nie.

* Onrealistiese lae verwagtinge ten opsigte van die TS-lyer se prestasie kan hom eweneens negatief beïnvloed sodat hy later daarvolgens presteer en aan sy eie vermoëns twyfel.

6.3.4 IMPLIKASIES VIR DIE SAMELEWING

Die selfkonsepprobleme wat die TS-lyer ondervind, impliseer dat:

* Die samelewing oor die algemeen moontlik nie genoegsaam oor TS ingelig is nie.

* Die media nie noodwendig voldoende en korrekte inligting rondom TS aanbied nie.

* Verskeie professionele persone, soos medici, sielkundiges, psigiaters en onderwysers, wat betrokke is by kinders, waarskynlik nie oor genoegsame inligting beskik ten aansien van TS nie.

* Die samelewing, waar daar nie tyd of geleentheid vir egte persoonskommunikasie en persoonlike verhoudinge is nie en waar kontakte vlugtig en oppervlakkig is (Pretorius, 1988:109), heel moontlik nie die TS-lyer se behoefte aan egte menslike kontak, waardeur hy sy persoon kan ontwikkel, bevredig nie.

* Die komplekse samelewing, waar die mens nie sy eie sosiale posisie en dié van ander ken nie (Pretorius, 1988:119), dalk tot gevolg het dat die TS-lyer dit ook moeilik vind om sy plek daarin te bepaal.

* Die gemassafiseerde samelewing, wat nie dít wat uniek is kosbaar ag nie en nie die TS-lyer in sy uniekheid na waarde ag nie.

* Die samelewing, wat gekenmerk word deur beroepsonsekerheid, waarskynlik die TS-lyer uit werksgeleenthede kan uitsluit.

6.4 AANBEVELINGS VOORTSPRUITEND UIT DIE ONDERSOEK

Die drie saamleefsituasies in die ekosisteem waarin die TS-lyer homself bevind, naamlik die gesin, skool en die samelewing, het elkeen 'n besondere taak om die TS-lyer behulpsaam hulp te wees om 'n realisties-positiewe selfkonsep te vorm en in stand te hou, asook sy potensiaal optimaal te verwesenlik. Op hierdie wyse word voorkom dat die TS-lyer 'n probleem vir homself, sy gesin, die skool en die samelewing word.

Bronheim (1991:17) stel dit ook duidelik dat die hantering van die TS-lyer 'n spanpoging moet wees, wat die TS-lyer, ouers, medici en ook die onderwyser (dit wil sê die totale ekosisteem) insluit, ten einde te verseker dat die kind wat aan TS ly, sy volle potensiaal verwesenlik. Vervolgens sal aanbevelings in hierdie verband gemaak word.

6.4.1 AANBEVELINGS MET BETREKKING TOT DIE ADOLESSENTE

TS-LYER SELF

Wat betref die lae nie-akademiese selfkonsep, naamlik lae fisieke self, lae persoonlike self, lae gesinself en lae sosiale self, kan die volgende aanbevelings gemaak word:

i) By wyse van individuele psigoterapie kan die volgende aandag geniet:

* Die TS-lyer kan geleer word om die effek wat TS op sy liggaam het, te begryp en te verwerk en sodoende ook sy liggaam te aanvaar.

* Ten einde die simptome so onopvallend en so min steurend as moontlik te maak, kan sy vermoë tot simptoommodifikasie bepaal en verbeter word, wat nie alleen die aanvaarding van die liggaamlikheid sal bevorder nie, maar ook interaksie kan verbeter.

* Die TS-lyer se kennis ten opsigte van TS kan uitgebrei word en hy kan leer wat die toekomsvooruitsigte vir hom is. Sodoende kan sy gevoel van negatiwiteit en ontevredenheid met homself as persoon verwerk word. Hy moet egter 'n wilsbesluit neem om TS as deel van sy lewe te aanvaar en die beste daaruit te haal.

* Die TS-lyer kan begelei word om persoonlikheidsafwykings, intrapersoonlike konflikte en emosionele aanpassings-probleme te verwerk.

* Die TS-lyer moet gehelp word met sosialisering, byvoorbeeld deur die aanleer van vaardighede soos konflikhantering en die stig van verhoudings, ten einde beter in te skakel, verhoudinge reg te stel en die lewe in 'n positiewe lig te sien.

* Die TS-lyer behoort ingelig te word ten opsigte van die gebruik en effek van die medikasie en aangemoedig te word om verantwoordelikheid te aanvaar vir die korrekte en gereelde gebruik daarvan. Sodoende het hy deel aan die behandeling, maar ook kontrole oor sy trekkings; dus ook oor sy liggaam.

* Die TS-lyer moet daarvan bewus gemaak word dat sy selfbeoordeling nie bepaal word in terme van sy TS nie, maar dat hy besluite moet neem op grond van sy eie moontlikhede en begeertes.

* Die TS-lyer kan aangemoedig word om positiewe boodskappe aan homself te gee deur aan homself as 'n suksesvolle persoon te dink en te visualiseer hoe hy sukses in take behaal. Hy moet ook leer om intrinsiek gemotiveerd te wees deurdat hy sy eie bron van aanmoediging, motivering en beloning is.

* Die TS-lyer beleef heelwat stres, dus moet hy strategieë verwerf om sy stres te hanteer en spanning te verlig.

ii) By wyse van gedragsterapie kan die volgende aandag geniet:

* Die TS-lyer se gedragsprobleme kan aangespreek word deur middel van byvoorbeeld "massed negative practice", "contingency management", ontspanningsoefeninge, selfmonitering, gewoonte-omkeringonderrig, asook kognitiewe gedragsterapie (cf. 2.9.2.3).

* Sosiale verhoudinge kan verbeter word deurdat die TS-lyer leer om verantwoordelikheid vir sy gedrag te aanvaar en nie die blaam op ander te plaas nie.

iii) By wyse van gesinsterapie kan die volgende aandag geniet:

* Gesonde kommunikasie kan bewerkstellig word deurdat die TS-lyer aangemoedig word om sy ouers, onderwysers en vriende in sy vertroue te neem, en oor sy probleme te gesels, in 'n poging om die saamlewe met mekaar te vergemaklik.

* Aanpassing in die gesin kan vergemaklik word deur die TS-lyer te verseker dat hy onvoorwaardelik in die gesin aanvaar word en deur hom te leer hoe om in situasies op te tree en sodoende die interaksie tussen hom en sy ouers te verbeter.

* Die normalisering van die TS-lyer se posisie as lid van die gesin kan bewerkstellig word deur die TS-lyer se aandag daarop te vestig dat hy nie misbruik van sy probleem moet maak om aandag te kry of om verantwoordelikhede in die gesin te ontduik nie.

iv) Strategieë waarby die TS-lyer baat kan vind, is:

* Nuut verworwe sosiale vaardighede kan binne die portuurgroep ingeoefen en getoets word.

* Betrokkenheid by sy medemens deur diens te lewer, kan positiewe terugvoering van ander in die hand kan werk en so die TS-lyer se siening van homself verbeter.

* Die TS-lyer kan aangemoedig word om aan fisieke aktiwiteite soos deur sy vermoëns en talente bepaal, byvoorbeeld swem, gimnastiek of karate, deel te neem, ten einde selfversekerdheid en tevredenheid ten opsigte van sy liggaam in die hand te werk en 'n gevoel van toereikendheid te verwerf.

* Die TS-lyer met ernstige, opvallende simptome kan 'n persoonlike visitekaartjie ("Calling Cards") saamdra, ten einde moeilike situasies met ander te hanteer. Die kaartjie is sakgrootte en verduidelik kortliks wat TS is (Tourette Syndrome Association, 1995:5).

Wat betref die lae akademiese selfkonsep, wat 'n negatiewe houding teenoor die skool, 'n lae evaluering van sy eie skoolwerk en 'n negatiewe persepsie van sy eie akademiese vermoëns insluit, kan die volgende aanbevelings aan die hand gedoen word:

i) By wyse van individuele psigoterapie kan die volgende aandag geniet:

* Die TS-lyer kan gehelp word om die negatiewe houding teenoor die skool te verander, deurdat hy probleem-oplossingstrategieë kan aanleer om probleme in die skool die hoof te bied.

* Die TS-lyer kan begelei word tot selfontdekking en selfkennis, ten einde sy talente en vermoëns te gebruik en realistiese verwagtinge aan homself te stel. Sodoende sal hy wel sukses in die skool kan behaal en 'n positiewe gesindheid jeens die skool kan kweek.

* Die TS-lyer se konsentrasievermoë kan ontwikkel word sodat hy ten spyte van sy trekkings, sy aandag en energie op sy werk leer fokus deur middel van geskikte strategieë. Indien hy sy medikasie korrek gebruik, kan dit moontlik daartoe bydra dat hy sy aandag kan fokus.

* Die TS-lyer moet bewus gemaak word van die billike toegewings waarop hy in die klassituasie kan aandring ten einde sy optimale akademiese funksionering moontlik te maak.

* Die TS-lyer moet ook geleer word dat hy sy prestasie nie met ander s'n hoef te vergelyk nie, of met ander hoef te kompeteer nie.

ii) By wyse van gedragsterapie kan die volgende aandag geniet:

* Die gedragsprobleme, asook obsessies en kompulsies, wat negatiewe terugvoering in die skool veroorsaak, kan aan die orde gestel word. Hy kan ook geleer word om aan die klas te verduidelik hoe TS hom beïnvloed en dat hy nie sy TS-simptome kan verhelp nie, asook om vir hulle te wys hoe om teenoor hom op te tree.

iii) By wyse van hulpverlening kan die volgende aandag geniet:

* Die TS-lyer moet met geskikte professionele persone saamwerk ten einde die skolastiese probleme en neuropsigologiese uitvalle op te hef.

iv) Ten opsigte van verskaffing van inligting, kan die volgende aandag geniet:

* Inligting oor studiemetodes en werkswyses wat vir die TS-lyer as individu geskik is, kan dit vir hom moontlik maak om beter te presteer.

* Voldoende inligting ten opsigte van studiegeleenthede by verskillende tipes tersiêre inrigtings, asook verskeie beroepsmoontlikhede vir die TS-lyer, behoort hom gerus te stel dat hy ook na voltooiing van sy skoolopleiding, homself sal kan voorberei vir 'n geskikte beroep.

* Inligting ten opsigte van TS-lyers wat suksesvol is en rolmodelle kan wees waarmee die TS-lyer kan identifiseer, moet verskaf word.

6.4.2 AANBEVELINGS MET BETREKKING TOT DIE GESIN

As primêre opvoeders het ouers 'n verantwoordelikheid ten opsigte van die vorming van 'n positiewe selfkonsep van hulle kinders.

Die volgende word aan die hand gedoen ten einde ouers in dié verband te steun:

i) By wyse van gesinsterapie kan die volgende aangespreek word:

* Die ouers kan gehelp word om die opvoedingsnood van die TS-lyer aan te spreek deur die TS van hulle kind te verwerk en die TS-lyer se behoeftes te bevredig, byvoorbeeld deur die TS-lyer te versorg, veiligheid en geborgenheid te verseker, hom lief te hê en hom onvoorwaardelik te aanvaar, te begryp, na waarde te ag en geleenthede daar te stel vir die verloop van sy identiteitsverwerwing en selfverwesenliking.

* Die ouers kan gehelp word om toereikende opvoedings-bemoeienis te bewerkstellig deur hulle aan te moedig om die TS-lyer te vertrou, maar ook om hom te ken, te verstaan en te begryp en simpatiek en konsekwent gesag uit te oefen. Sodanige bemoeienis skep die moontlikheid en ruimte waarbinne die ouer verantwoordelikheid aan die TS-lyer kan toevertrou, hom die geleentheid kan gee om te waag, ten spyte van sy TS, en hom kan aanmoedig om toenemend onafhanklik te lewe.

* Ouers moet gehelp word om opvoedingsbelemmerende faktore soos verwenning, oorbeskerming en verwaarlosing, wat verhoed dat die opvoeding vlot verloop en dat die TS-lyer 'n positiewe selfkonsep ontwikkel, uit die weg te ruim. 'n Veilige ruimte vir die TS-lyer se selfverwesenliking kan geskep word deurdat die ouers die TS-lyer se vrae beantwoord en aan hom hulp verleen met die oplos van sy probleme en die nodige sosiale deugde demonstreer wat dus 'n model daarstel waarvolgens hy kan lewe. Hulle behoort ook die nodige stimulasie te verskaf, ten einde die TS-lyer te help om sy eie unieke potensiaal te ontdek en te verwesenlik.

* Ontoereikende kommunikasie in die gesin, wat die oordra van gevoelens belemmer en die rustige oplos van probleemsituasies in 'n liefdevolle verbondenheid in die wiele ry, moet gewysig word. Dit kan bewerkstellig word deurdat ouers leer en oefen om aangeleenthede rondom TS openlik met hulle kinders te bespreek, maar ook om bereid te wees om na hulle TS-lyer te luister en te poog om hulleself in sy posisie te plaas. Effektiewe kommunikasie tussen hulleself en die skoolpersoneel moet ook bewerkstellig word.

* Die TS-lyer se versteurde psigiese lewe, wat belemmerde intrapersoonlike funksionering en die belewing van negatiewe gevoelens ten opsigte van homself behels, maak dit noodsaaklik dat die gesin 'n ruimte moet bied vir gesonde psigiese belewing. Dit kan bewerkstellig word deur die ouers te help om eerstens na hulle eie geestes-gesondheid om te sien, skuldgevoelens en woede te verwerk en selfblaam uit die weg te ruim. Voorts kan hulle gehelp word om die TS-lyer makliker te hanteer en te steun om positiewe betekenis aan homself te gee, deur emosionele ontlading toe te laat, aan hom erkenning te gee en sy selfvertroue op te bou.

* Die ouers kan gehelp word om die versteurde uitingslewe van die TS-lyer, dit wil sê sy ongewenste en onaanvaarbare gedrag, binne die gesin te hanteer, deurdat hulle gehelp word om strategieë te verwerf om gedragsprobleme op só 'n wyse te hanteer dat konflik vermy word, asook om die kind ferm en konsekwent te dissiplineer. Dit sal daartoe bydra dat die TS-lyer geborge in die gesin voel, wat hopelik in sy gedrag weerspieël sal word. Die ouers moet egter bewus wees van die TS-lyer se moontlikhede en op grond daarvan minder druk op hom plaas en realisties wees in hulle verwagtinge van hom.

* Aangesien gesinne met TS-lyers 'n perspektiefloosheid kan beleef, behoort die ouers toe te sien dat die TS-lyer homself hoopvol op die toekoms rig, deur die nodige inligting met betrekking tot TS, asook alle toekoms-moontlikhede wat daar vir die TS-lyer bestaan, te bekom, ten einde onnodige kommer en onsekerheid oor die TS-lyer en sy toekoms uit te skakel.

* Die sirkulêre gesinsdinamiek behoort in oënskou geneem te word en na 'n liniêre dinamiek verander te word, deurdat die ouers gelei word om positiewe betekenis aan hulle gesinsituasie toe te ken en positiewe moontlikhede vir die TS-lyer se volwassewording te bied.

ii) Deur middel van 'n ondersteuningsgroep kan die volgende aangespreek word:

* Behalwe die emosionele ondersteuning van die ouers, bied die ondersteuningsgroep die geleentheid vir deskundiges, soos medici, sielkundiges en opvoedkundiges om op 'n gereelde grondslag die ouers van inligting en raad te bedien.

* Strategieë wat die ander ouers nuttig vind om konflik op te los, gedrag te verander en interaksie in die gesin te verbeter, kan met mekaar gedeel word.

* Gesinslede kan ondersteun word om die nodige aanpassings in die gesin te maak, ten einde toereikende ondersteuning en begeleiding vir die TS-lyer te bied, deur hulle ervarings met mekaar te deel.

* Ouers behoort betrokke te wees by die interdissiplinêre span ten einde die TS-lyer se behandeling effektief te laat geskied. Hulle moet ook aktief betrokke wees by 'n bewusmaking van familielede, vriende en kennisse ten opsigte van TS, deur inligting aan hulle te versprei.

6.4.3 AANBEVELINGS MET BETREKKING TOT DIE SKOOL

Die skool as brug tussen die gesin en die samelewing moet medeverantwoordelikheid vir die selfkonsepvorming van die TS-lyer aanvaar. Die volgende aanbevelings word met betrekking tot die skool se rol in die selfkonsepvorming van die TS-lyer aan die hand gedoen:

Wat betref die lae akademiese selfkonsep, wat 'n negatiewe houding teenoor die skool, 'n lae evaluering van sy skoolwerk en 'n negatiewe persepsie van sy akademiese vermoëns insluit, kan die volgende aanbevelings aan die hand gedoen word:

i) Inligtingverskaffing:

* Die personeel en leerlinge moet ingelig word oor TS. Dit kan gedoen word deurdat ouers inligtingstukke aan die skool beskikbaar stel, kundiges gekry word om die personeel en leerlinge toe te spreek, en ook deurdat geskikte videos vertoon word. Sodoende sal die kind (en nie die simptome nie) raakgesien word, wat daartoe sal bydra dat hy die skoolervaring as positief sal beleef.

ii) Die rol van die skool ten opsigte van sosialisering:

* Die ongemak waarmee die personeel en leerlinge (sy portuurgroep) met die TS-lyer omgaan, kan uit die weg geruim word as die TS-lyer die geleentheid kry om te verduidelik hoe dit voel om 'n TS-lyer te wees en hoe hy sou wou hê ander teenoor hom moet optree.

* Die sosiale interaksie kan bevorder word deur die TS-lyer doelbewus by aktiwiteite in die klas te betrek. Geleenthede vir sosialisering binne groepsverband kan geskep word terwyl daar toegesien word dat die TS-lyer ook deelneem.

iii) Opvoedingsklimaat, klaskamerorganisasie en onderwysstyl:

* Die skool moet 'n gesonde opvoedingsklimaat, wat uitnodigend is en die TS-lyer aanmoedig en ondersteun, skep, sodat hy die skool nie as 'n bedreiging beleef nie, deur byvoorbeeld wat Purkey & Novak (1984:3) "invitational teaching and learning" noem (cf. 3.7.3.2) te implementeer. Ook kan die "Accelerated Learning Experience" (suggestopedie) van Lozanov (cf. 2.9.4), wat 'n informele klasatmosfeer daarstel, ingespan word ten einde die TS-lyer in staat te stel om akademies optimaal te presteer.

* Onderwysers moet altyd navolgenswaardige rolmodelle vir die leerlinge wees - ook ten opsigte van hulle optrede teenoor 'n TS-lyer.

* 'n Kwaliteit onderwyser-leerlingverhouding moet nagestreef word, aangesien dit van groot belang is vir die TS-lyer se ingesteldheid teenoor die skool. Wedersydse respek en begrip, asook belangstelling, toereikende kommunikasie en onvoorwaardelike aanvaarding, moet as 'n prioriteit beskou word.

* Meer geleenthede vir suksesbelewing kan deur die onderwyser geskep word, deur byvoorbeeld uitkomsgebaseerde onderwys, waar elke individu se bemeestering van kennis, vaardighede en gesindhede deurlopend geëvalueer word en die klem op kompetisie met die ander verminder word. Ook kan goed-beplande groepprojekte, waar koöperatiewe leerstrategieë ingespan word en leerlinge saamwerk en as groep sukses behaal (Slavin, 1994:58), gebruik word om die TS-lyer ook die genot van sukses te laat smaak (cf. 3.7.3.2).

* Die onderwyser moet sy klasbestuur op so 'n wyse beplan dat dit die TS-lyer se spesifieke behoeftes pas. Sy lesaanbieding, dissiplinering en hoe hy die TS-lyer by die klasgebeure betrek, kan die TS-lyer optimaal laat presteer. Die onderwyser kan die TS-lyer help om 'n interne lokus van beheer te vestig deur 'n ontspanningsresponskurrikulum (Benson, et al., 1994:227) te implementeer, wat positiewe fisiologiese en psigologiese veranderinge by die TS-lyer teweeg kan bring en hom meer tevrede in die skool kan laat voel (cf. 3.7.3.2).

* 'n Geïndividualiseerde opvoedingsprogram, waar die TS-lyer se spesifieke behoeftes geakkommodeer word, kan voorkom dat hy onderpresteer en sy eie werk geringskat. Dit sal ook heel waarskynlik die "Ek kan nie"-siklus waarvan Hamachek (1995:304) melding maak, verbreek.

* Aanpassings wat die onderwyser kan maak ten einde die lewe vir die TS-lyer makliker te maak:

** 'n Mondelinge eksamen kan 'n skriftelike eksamen vervang indien TS die TS-lyer se funksionering tydens 'n skriftelike eksamen belemmer.

** Die fotokopieer van 'n medestudent se werk kan die druk van die TS-lyer verlig, indien hy dit moeilik vind om vinnig te skryf.

** Die gebruik van 'n tikmasjien eerder as 'n pen kan die voltooiing van werk bespoedig, indien die TS-lyer dit moeilik vind om 'n pen te hanteer.

** Die TS-lyer mag toegelaat word om 'n bandopnemer te gebruik in plaas van om 'n mondelinge aanbieding te doen, indien hy ongemaklik voel om voor die klas op te tree.

** Daar kan in kleiner groepe gewerk word ten einde spanning te verminder, indien die TS-lyer verleë voel oor sy simptome.

* Die beskouing dat foute mislukkings is, moet uit die weg geruim word in die klas, deur te beklemtoon dat 'n persoon deur foute leer.

* Afhangende van die ernstigheidsgraad van die TS, kan 'n spesiale tutor, 'n leerlaboratorium, 'n spesiale of residensiële skool moontlik die TS-lyer beter akkommodeer, ten einde te voorkom dat hy skolastiese probleme ondervind en glo dat sy werk van 'n lae gehalte is.

* Ruimte moet geskep word vir voldoende loopbaanvoorligting vir die TS-lyer en sy spesifieke behoeftes.

iv) Hantering van die TS-lyer as persoon:

* Die onderwyser moet realistiese verwagtinge van die TS-lyer koester, deur kennis te dra van sy vermoëns, beperkinge en sy omstandighede en hom nie onder onnodige druk plaas nie. Die TS-lyer moet aangemoedig word om so goed as moontlik te presteer en met homself, en nie met ander nie, te kompeteer.

* Die onderwyser moet toegewings maak deur die TS-lyer toe te laat om, wanneer nodig, sy trekkings buite sig van ander te laat gebeur, sodat hy nie al sy energie en konsentrasie op die onderdrukking van die simptome fokus nie, maar wel op sy werk.

* Die onderwyser moet balans nastreef deur beklemtoning van akademiese prestasie, sowel as die sosiale vaardighede en lewensvaardighede wat die TS-lyer in die skool moet verwerf.

v) Onderwyseropleiding:

* Voorsiening moet tydens voordiensopleiding gemaak word vir die toereikende voorbereiding en toerusting van onderwysers om TS-lyers in die hoofstroomonderwys vroegtydig te identifiseer en binne die hoofstroomonderwys te kan hanteer.

* Onderwysers wat alreeds in die onderwysberoep staan, moet deur middel van indiensopleiding toegerus word om TS-lyers vroegtydig te identifiseer en binne die hoofstroomonderwys te hanteer.

vi) Samewerking tussen skool en ouerhuis:

* Noue samewerking tussen die onderwysers en die ouers moet nagestreef en daargestel word tot voordeel van die TS-lyer.

6.4.4 AANBEVELINGS MET BETREKKING TOT DIE SAMELEWING

Die samelewing, as deel van die ekosisteem van die TS-lyer, het ook 'n medeverantwoordelikheid vir die selfkonsepvorming van die TS-lyer, daarom dan die volgende aanbevelings ten opsigte van:

i) Inligting:

* Onkunde in die samelewing ten opsigte van TS moet aangespreek word, byvoorbeeld deurdat die Tourette-sindroomvereniging van Suid-Afrika en ondersteuningsgroepe 'n nasionale bewusmakingsveldtog van stapel stuur.

* Die media behoort genoegsame en slegs realistiese materiaal ten opsigte van TS te versprei.

ii) Beroepsgeleenthede:

* Die samelewing behoort TS-lyers te akkommodeer, deur aan hulle gelyke geleenthede in opvoedingsinstansies, sosiale situasies en werksplekke te bied. Wetgewing, wat voorkom dat TS-lyers uit die beroepswêreld gehou word, kan byvoorbeeld ingedien word.

iii) Ingeligte kundiges:

* Die professionele persone betrokke by kinders, byvoorbeeld sielkundiges, medici en onderwysers, moet ingelig word oor TS, deur TS-modules in opleidingskursusse in te sluit en ook deur middel van indiensopleiding. Hulle kan ook betrek word by 'n bewusmakingsveldtog ten opsigte van TS en sodoende inligting versprei.

6.5 AANBEVELINGS VIR VERDERE NAVORSING

Alhoewel daar omvattende navorsing oor TS gedoen is, is min daarvan vanuit 'n opvoedkundige perspektief benader. Die volgende kan moontlik van belang wees:

* In die onderhawige navorsing is slegs van blanke TS-lyers gebruik gemaak, omdat geen TS-lyers van ander bevolkings-groepe opgespoor kon word nie. Hierdie navorsing behoort herhaal te word om te ondersoek hoe TS die selfkonsep van TS-lyers in ander bevolkingsgroepe in Suid-Afrika raak.

* Aangesien TS aanleiding kan gee tot 'n problematiese opvoedingsituasie, behoort daar ondersoek ingestel te word na die rol van TS in kindermishandeling deur die ouers.

* Aangesien die TS-lyer skuldgevoelens by die ouer kan laat ontstaan en die TS-lyer die ouer kan manipuleer, behoort ouermishandeling deur TS-lyers ook nagevors te word.

* Aangesien diagnosering van TS-lyers aan die toeneem is, behoort 'n ondersoek na die effek wat etikettering as 'n TS-lyer op die persoon het, interessante bevindinge op te lewer.

* Aangesien bewuswording van TS aan die toeneem is, kan 'n epidemiologiese ondersoek ten opsigte van TS in Suid-Afrika onderneem word.

6.6 MOONTLIKE BEPERKINGE VAN DIE ONDERSOEK

6.6.1 Indien meer adolessente TS-lyers in die sekondêre skool by die navorsing betrek kon word, sou daar moontlik meer veralgemeenbare resultate verkry kon word.

6.6.2 Indien die TS-groep groter kon wees, sou die effek van al die veranderlikes op die selfkonsep van die TS-lyer ondersoek kon word.

6.6.3 Die resultate is bloot op grond van die gegewens wat met behulp van die vraelyste verkry is, bereken. Die wye verspreiding van die TS-lyers het dit nie prakties moontlik gemaak om ook persoonlike onderhoude met die proefpersone, hul ouers en gesinslede en onderwysers te voer nie.

6.7 SLOTBESKOUING

Uit die resultate van hierdie ondersoek blyk dit dat die adolessente TS-lyer in die sekondêre skool geneig is tot 'n lae selfkonsep, wat toereikende funksionering en optimale realisering van sy moontlikhede belemmer.

TS kan beskou word as 'n neuropsigiatriese probleem. Die oorsaak daarvan kan gesoek word in die genetiese samestelling van die persoon. Wanneer die TS-lyer nie effektiewe medikasie kry nie, nie doeltreffend in die gesin en die skool hanteer word nie, en nie onvoorwaardelik deur die totale ekosisteem aanvaar word nie, kan hy nie 'n realisties-positiewe selfkonsep vorm en in stand hou nie.

Alle opvoeders en opvoedkundiges moet derhalwe indringend besin oor die interaksie met die TS-lyer sodat hy sy lewe as sinvol en bevredigend kan ervaar. Die TS-lyer moet as unieke wese aanvaar en opgevoed word om binne die samelewing sy plek te kan volstaan.

Terug na hoof bladsy